KORT GESKIEDENIS OOR DIE
ALGEMENE NG KERK
|
|
Die NG Kerk se geskiedenis in Suidelike Afrika begin met
die aankoms van die Nederlander, Jan van Riebeeck, aan die Suidpunt van Afrika
op 6 April 1652. Hy moes in opdrag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanie ‘n
halfwegstasie na die Ooste vind. So ontstaan die nedersetting teen die hange
van Tafelberg met die benaming “Kaap van Goeie Hoop”. Met hom
saam, bring Van Riebeeck ook die Christelike geloof. Een van die eerste dinge wat hy byvoorbeeld doen met sy
aankoms aan die Kaap, is om in ‘n openbare gebed die Here te dank en Sy seën te
vra op die onderneming. En, omdat hy van Gereformeerde geloofsoortuiging was,
word die Gereformeerde kerktradisie daarmee aan die Kaap gevestig.
In die volgende jare groei die Europese bevolking, eers
met die aankoms van die Franse Hugenote en heelwat later deur die koms van die
Britse Setlaars. Dit was veral die koms van die Franse Hugenote, wat uit hulle
land gevlug het weens die vervolging wat hulle daar beleef het onder die Roomse
Katolieke Kerk, wat die geledere van die Protestantse gelowiges versterk is.
Die aantal gemeentes neem stadig toe en versprei met die trek van nedersetters
na die binneland. Met die opening van die eerste Sinode van die Gereformeerde
kerk met Nederduitse oorsprong op 2 November 1824 was daar alreeds 14 gemeentes
van die kerk.
Kontak met die plaaslike bevolking van Suidelike Afrika
het 'n geleentheid gebied vir sendingwerk en onderwys. Die kerk se bydrae is
egter gekortwiek deur 'n tekort aan predikante en predikante vanaf Nederland en
Skotland moes in hierdie tekort voorsien. Deur die Groot Trek in die laat
dertigerjare van die 19de eeu, het 'n groot deel van die bevolking oor die
noordelike grens (Oranjerivier) van die Kaapkolonie getrek na die gebiede wat
later bekend sou staan as die Oranje-Vrystaat, Natal en Transvaal.
Talle nuwe gemeentes het sodoende ontstaan en die
behoefte aan predikante het toegeneem. Geleidelik het die behoefte aan eie teologiese opleiding dus vir die NG Kerk al groter geword. So word die eerste
Teologiese Kweekskool (Seminarium) in 1859 op Stellenbosch gestig. Dit word in
1963 die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch. Amper
tagtig jaar later, in 1937, word die opleiding van predikante na die noorde van
die land uitgebrei met die totstandkoming van die Teologiese Fakulteit aan die
Universiteit van Pretoria. Die totstandkoming van die Teologiese Fakulteit aan
die Universiteit van die Oranje-Vrystaat vind in 1978 tydens die Algemene
Sinode se sitting in Bloemfontein plaas, met die eerste klasse wat in 1981
begin.
Aanvanklik was die Kaapse Sinode die enigste sinode van
die NG Kerk. Maar as gevolg van verskeie redes ontstaan daar al meer sinodes
buite die Kaapkolonie. So kry die Oranje-Vrystaat ‘n eie sinode in 1864, Natal
in 1865 en Transvaal in 1853. Pogings tot vereniging van die sinodes het na
Uniewording in 1910 misluk, maar in 1962 is hierdie pogings uiteindelik
suksesvol met die totstandkoming van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Oor
die jare is ook pogings aangewend om vereniging tussen die NG Kerk, die
Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika tot stand
te bring.
Met verloop van tyd het daar vanuit die NG Kerk die Familie van NG Kerke ontstaan
met die totstandkoming van die NG Kerk in Afrika (NGKA), die NG Sendingkerk
(hierdie kerke het in 1986 verening tot die Verenigende Gereformeerde Kerk in
Suider-Afrika - VGKSA) en die Reformed Church in Afica (RCA). Sedert 1994 het
die momentum om hierdie kerke van die kerkfamilie met mekaar te vereniging nuwe
momemtum gekry. Hierdie kerkherenigingsproses is tans 'n hoë prioriteit binne
die NG Kerkfamilie.
NG
Kerkfamilie
Aanvanklik was daar net een NG Kerk. Daar was altyd ‘n
baie sterk sending-gerigtheid in die kerk se geledere. So ontstaan daar oral in
Suidelike Afrika sendingwerkkringe, waarvan die meeste hulle oorsprong het by sendinginstitute
en sendinggenootskappe. Mettertyd neem die verskillende sinodes van die NG Kerk
(die kerk in Kaapland, Transvaal, Vrystaat en Natal) verantwoordelikheid vir
hierdie sendingwerksaamhede. Later sou Namibië ook bykom.
Dit lei geleidelik tot die ontstaan van verskeie NG Kerk in Afrika-sinodes
oor die land. In 1963 het hierdie sinodes verenig in die Algemene Sinode van
die NG Kerk in Afrika.
Intussen het die werksaamhede van die NG Kerk in
buurlande soos Zimbabwe, Zambië en Malawi onafhanklik ontwikkel tot eie
sinodes, met vennootskappe met NG Kerk-sinodes in Suid-Afrika. So is daar die
Reformed Church in Zimbabwe (RCZ) in Zimbabwe, die Church of Central Africa
Presbyterian (CCAP) in Malawi en Zimbabwe, die Swaziland Reformed Church in Swaziland, die
Dutch Reformed church in
Botswana in Botswana asook die Reformed Church in Zambia (RCZ) in
Zambië. Die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) in Mosambiek ook bygekom sowel
as die Igreja Reformada
Evangelica em Portugal in Portugal.
Terwyl die NG Kerk aanvanklik hoofsaaklik bestaan het uit
Nederlandssprekendes, wat later tot Afrikaanssprekende lidmate ontwikkel het,
is die lidmate van die ander kerke ook hoofsaaklik taal en geografies gebonde.
Binne die Afrikaansprekende NG Kerk het daar egter sedert
1824 ‘n nuwe groepering ontstaan. As gevolg van ‘n versoek tot die afsonderlike
bediening van nagmaal aan die boeregemeenskap uit die gemeente Stockenstroom in
die Oos-Kaap daardie jaar, besluit die Kaapse Sinode in 1857 dat die hierdie
versoek toegestaan kan word, alhoewel “ter wille van die swakheid van sommige.”
Dit lei egter tot die afsonderlike bediening van bruin lidmate van die NG Kerk
(sogenaamde sendinggemeentes), wat op sy beurt weer gelei het tot die stigting
van die NG Sendingkerk in 1881.
In 1982 aanvaar die NG Sendingkerk die Belydenis van Belhar tydens hulle vierjaarlikse sinodesitting in
Bellville-Suid (Kaapstad) in die gemeente van Belhar. ‘n Finale, hersiende
weergawe word in 1986 aanvaar. In hierdie belydenis word onder andere gedwonge
afsonderlikheid en geskeidenheid (politieke beleid) op rassegronslag as
on-Christelik gestel.
Omdat die kerk ‘n versoenende gemeenskap behoort te wees,
moet die sigbare eenheid van die kerk ‘n getuienis wees van hierdie versoening.
Met hierdie belydenis as grondslag vind die vereniging tussen die NG
Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika in 1996 plaas en word die Verenigende
Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) gestig.
Nie alle gemeentes van die NG Kerk in Afrika het egter
deel geword van die VGK nie. Veral in die Noord-Kaap en Vrystaat bestaan daar
tans nog NGKA-sinodes.
Intussen het sendingwerk onder die Indiër-bevolking van
Suid-Afrika gelei tot die totstandkoming van die Reformed Church in Africa in
1988.
Meer hieroor kan gelees word van die webadres www.ngkerk.co.za
waarvanaf die inligting verkry is.
|